'n Saluut aan Jeanette Koekemoer (en 'n behoorlike saluut ook, skerp op, handpalm na buite, wysvinger teen winkbrou, alles van die pinkietoppie tot die elmboog in een reguit lyn, en flink af; nie deesdae se Yank-styl, hou-jou-oog-toe tipe gebaar nie.) Sy het die feite behoorlik vasgevat in haar rubriek, TV-'dokumentêr' oor grensoorlog is suiwer kommunistiese propaganda .
Die Suid-Afrikaanse liberalistiese rewolusie het in sy spore vasgeslaan maar hulle woel nog verbete om die laaste twee pilare van Afrikanerkultuur te laat tuimel: Calvinistiese Christenskap soos beliggaam in die susterskerke en die Afrikaner se trots in sy krygsvermoë. Hulle aanslag teen veral die NG Kerk het vasgeval met die ontspoorde obsessie om die NGK en die VGK te verenig. In hulle aanslag teen die waarheid oor die moedige, doeltreffende, seëvierende en menslike grensoorlog wat die Suid-Afrikaanse Weermag geveg het, loop hulle nog op punte voor.
Maar daar is deesdae 'n frenetiese skrilklankie in die linkse propaganda. Hulle grootste nagmerrie is die herontwaking van Afrikanernasionalisme en sy herontdekking van sy krygsvernuf. Hulle probeer dit voorspring deur die Afrikaner met sy eie gewete te versmoor. As hulle die S.A.W. nie net as onbeholpe kan uitmaak nie, maar ook as 'n organisasie van brutale, onnosele menseskenders, kan hulle die Afrikaner dalk verhoed om sy heil weer in die wapen te vind.
Vir amper 'n anderhalfdekade was dié oorlog nie deel van die nasionale gesprek nie. Die ANK met hulle bespotlike gewapende "stryd" wou nie aandag vestig op hulle militêre wanprestasies nie. Dit sou die beeld van die fiere vryheidsvegter niks goeds doen nie. Die veterane van die S.A.W. aan die ander kant, het uit misplaaste ordentlikheid gevoel dat hulle liewers nie oor hulle gatskoppery moet loop en spog nie.
Deesdae word hierdie gesprek egter op die nasionale dorpsplein gevoer.
Dit is veral die linkses wat verwoed inklim met 'n swetterjoel boeke, artikels en televisieaanslae, almal daarop gemik om te bewys dat die S.A.W. 'n kil, vraatsige masjien was wat groot hoeveelhede mense moes verslind om net aan die gang te bly.
Jeanette Koekemoer is in die kol met haar gevolgtrekkings en ontleding van 'n hoeveelheid televisiedokumentêre. Sy verwys ook sydelings na MNET se Grensoorlog-program, rondgepronk as "Suid-Afrika se 'World at War.'"
Die aanbieding van die stof in hierdie program is net so skromelik oneweredig as in enige ander propagandapoging. Growwe veralgemenings, verdraaiing van feite en die ophemeling van die volk se vyande is die weefstof van hierdie linkse televisietraktaat. Daar is so iets soos "posisionering" waar 'n duidelike subteks waarneembaar is, bloot deur die posisie wat aan sekere beelde, klankgrepe en onderhoude gegun word. Enige kommunikasiekundige moet maar net grinnik oor die blatantheid waarmee "Grensoorlog" daardeur simpatie na die kommuniste probeer rangeer.
So byvoorbeeld word Swapo, Fapla en die Kubane se deelname aan die stryd as 'n heroïese kruistog teen verdrukking aangebied. En die Suid-Afrikaners? Wel, in dieselfde episode word die hoofmotief vir hulle deelname letterlik gereduseer tot 'n fotoverhaalboekie. 'n Uitgawe van "Rocco de Wet, grensvegter" word raampie vir raampie in oorgedramatiseerde stemme gelees. In dié deel bespreek die verspotte Rocco die aard van die kommunistiese bedreiging met een of ander poplap. Die kontras kon nie groter gewees het nie. Swapo het geveg vir edele menslike ideale; die S.A.W. se troepe omdat hulle deur goedkoop geelpersmateriaal mislei was.
Die Heilige Graal van die linkse S.A.W.-ontleder is verhale van grootskaalse gruwels wat deur die weermag gepleeg is. Omdat die S.A.W. egter 'n organisasie was wat streng op Calvinistiese beginsels van medemenslikheid geskoei was, kon die linkses eenvoudig nie hulle hande op sulke gruwelstories lê nie. O, hulle het toe maar 'n paar floues gefabriseer, soos dié van David van Wyk en dié van die ander armsalige skisofreen in Melville wat te vertelle gehad het dat hy nog nagmerries het van die "pop, pop, pop"-geluide wat veroorsaak is deur die babaskedeltjies wat onder S.A.W.-stewels papgetrap is. O ja, en dan was daar die skreeusnaakse pokkel wat op 'n Fokus-uitsending 'n amateuragtige, oorgekookte voordrag gelewer het van sy hel as homoseksueel in die weermag wat in 'n aversieterapiepoging gemartel is om van sy verwyfdheid af te sien.
Dié styl feitevervaardiging maak egter nie veel hond haar af nie en die vervaardigers loop boonop die risiko dat 'n regte joernalis dit sal begin opvolg... en wáár los dit hulle dan?
'n Ander, meer subtiele mite is dus geskep: Die idee van skares manne wat deur die kille barbaarsheid van hulle ervaring in die S.A.W. só innerlik geskend is, dat hulle nou, dekades later, skaars daaroor kan praat. Jacqui Thompson het dié gedagteskool begin met haar boek, "An unpopular war," wat onder die meer neutrale titel "Dit was oorlog" vertaal is.
Volgens Jeanette Koekemoer weeklaag Thompson oor die oud-troepe se onwilligheid om met haar te praat. Hei, luister, ek was daar. Vandag, op die datum, vyf-en-twintig jaar gelede was ek 'n deelnemer aan Operasie Askari, toe die grootste meganiese opmars deur Suid-Afrikaanse soldate sedert die Tweede Wêreldoorlog. As die liewe Jacqui nie manne kan kry om met haar te praat nie, is dit omdat haar motiewe ooglopend oneerlik is. Die veterane is skepties oor 'n liberale dollie wat geen idee het van hoe dit was nie en wat geen respek vir die ongeskrewe erekodes van oudgediendes het nie.
Ek het self geen probleem om S.A.W.-veterane aan die gesels te kry nie. Inteendeel. Daar is 'n gretigheid onder die lede om te praat, te onthou, te verduidelik... Die nostalgie loop so dik soos stroop. Kies 'n kroeg, betaal my bier, en ek wed jou, gee my 'n kwartier en ek sal 'n veteraan opspoor en aan die babbel hê oor sy weermagdae. En dit is nie een of ander katarsisstroom woorde nie. Hierdie manne praat want hulle is tróts op wat hulle vermag het, die oorwinning wat ons behaal het en die manier waarop ons dit gedoen het.
Nie dat dit een uitgerekte piekniek was nie. Weinig dienspligtiges was enige iets anders as traag om aan te meld vir opleiding. Maar dit was iets wat móés gedoen word en toe doen ons dit. Miskien is dit die kosbaarste les wat ek in die weermag geleer het: Lus het niks daarmee te doen nie. Dikwels moet 'n mens iets doen al wil jy regtig, regtig nie.
Op die 31ste Desember 1983, tydens dieselfde Ops Askari, het 'n mortier agter in een van ons Buffels geland. Drie van my vriende uit basies, skutters Schrönen, Smit en Le Roux, het gesneuwel. Ons was diep ontsteld en smoorkwaad vir die weermag wat hulle so na aan die vuurfront laat kom het in 'n oopbakvoertuig tydens 'n konvensionele veldslag. Kort daarna is die burgermagkommandant van die veggroep onthef en vervang deur 'n beroepsoldaat, Kommandant Van Lill.
Ons het hom goed geken, beide omdat hy die tweede-in-bevel van 1SAI was toe ons daar basiese opleiding gekry het, en ook vanweë sy reputasie. Ons korporaal, 'n taai riem van 'n pelotonsersant, het vir ons gesê dat Kommandant Van Lill die beste soldaat was wat hy ooit geken het. Daar was orals eggo's van dié mening. Hy was een van daardie onstuitbare, geharde soldate wat die lojaliteit van sy troepe verdien en verwerf het.
Toe hy by ons veggroep opdaag, het hy met ons drie gesneuwelde makkers se beste vriende gaan praat. Maar dit was nie 'n doekvoet, oetsjie-koetsjie, ek's-so-jammer-vir-julle geprewel nie. Glad nie.
"Toe," het hy gesê, "hulle is dood. Nou weet julle hoe dit voel. Dis nie lekker nie, is dit? Wel, dis nie veronderstel om lekker te wees nie. Wat het julle gedink?
Oorlog is 'n kontaksport. Mense gaan dood.
Kom nou daaroor.
Ons het werk om te doen."
En daardie troepe het die werk gedoen. Ons het Cuvelai ingeneem en daarmee onontbeerlike voorradetoevoer na Swapo afgesny.
So, my boodskap vir dié oudlede wat nou hulle hande so wring in die openbaar, is: Hei! Kom nou daaroor. Kry houding man. So, dit was taai en ons het seergekry en ons pelle het doodgegaan. Maar ons het gedoen wat ons moes. Ja, ons politici het ons op die kilste, lafhartigste manier verraai en baie van ons opoffering ongedaan gemaak. Húlle moet daarmee saamleef.
Ons land het ons nodig gehad en ons het aangetree. En dit het ons gekos.
Laat ons nou net die prys met waardigheid betaal en ons koppe hoog hou.
Ons was soldate in die Suid-Afrikaanse Weermag.
Dít is iets om op trots te wees.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





