praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Friday, 18. May 2012

Bygewerk op:04:46:25 AM GMT

Jy is hier: Rubrieke Gustav Venter Daardie ou koei, apartheid

Daardie ou koei, apartheid

E-pos Afdruk PDF
Image

Uit my huidige navorsing oor die Grensoorlog het ek op 'n interessante obiter-feit afgekom. Tydens die voorbereiding vir die onaangenaamheid by Cuito Cuanavale het die toenmalige president, PW Botha, 'n strategiese beplanningsessie bygewoon. Iewers tydens die geskrum rondom planne, idees en inligting, het 'n relatiewe junior offisier die opmerking gemaak dat dit half jammer is dat daar 'n staande verbod op die gebruik van slagtenks in Angola is.

Almal in die SAW het van dié verbod geweet maar niemand kon met sekerheid sê waar dit vandaan gekom of wie dit uitgevaardig het nie. Dit het van “bo” afgekom en was 'n algemeen aanvaarde feit. Die gesprek het weggeswenk na ander sake totdat 'n peinsende PW dit onderbreek het.

Hierdie ding van die tenks wat verbied is, het hy gesê, hy weet niks daarvan nie. Hy weet wel dat hý nooit van so 'n verbod gehoor het of dit goedgekeur het nie. Die vergadering was stomverbaas. Sover dit militêre sake in Suid-Afrika betref het, was PW so “bo” as wat “bo” kan wees; “bo” hom was daar niks nie. Almal het maar net hierdie verbod aanvaar en dit nooit getoets nie. Daarna kon die beplanners die aanwending van Olifanttenks in hulle taktieke inwerk.

Die onbetwiste wêreldleiers in die aanwending van die algemeen aanvaarde feit (eintlik moet ons dit in hoofletters skryf: AAF) is die liberale propagandasmouse wat die Afrikaners van die ‘90’s en die dekade daarna 'n rat voor die oë gedraai het. Die AAF soos ons dit hier aantref, is 'n stelling waarin die waarheid ten beste slegs brokkiesgewys verteenwoordig word. Dit is met ander woorde 'n mite wat in die kollektiewe nasionale bewussyn gevestig is deur dit aanvanklik met drif te verkondig en onophoudelik in die openbare debat te herhaal. Dit word van 'n standpunt na 'n AAF verhef wanneer die aanvoerder daarvan dit as 'n vasgestelde waarheid behandel, so al asof daar 'n konsensus in die debat daaroor bereik is. Dit word ortodoksheid en dié wat daarteen sou redeneer is 'n sosiaal-historiese ketter.

Hierdie Algemeen Aanvaarde Feit word egter afgetakel wanneer dit vir welke rede ook al herbesoek word. Dan word dit soos 'n defektiewe produk herroep na die openbare debat waar die waarheid dié keer die finale oordeel daaroor sal vel. 'n Goeie demonstrasie hiervan is juis die Slag van Cuito Cuanavale.

Dié uitmuntende SAW-prestasie was net nie deel van die volksbewussyn nie. Toe dit plaasgevind het in 1987-’88 was die NP-leierskap te besig om polities suutjies te trap in hulle proses van onvoorwaardelike oorgawe om die slag te vier op die wyse wat dit verdien het. Naspers, met hulle onfeilbare opportunistiese neuse teen die politieke grond, het dit toe al lankal as onfatsoenlik gesien om Afrikanerprestasies te vier. In die nasionale bewussyn was Cuito Cuanavale 'n vormlose stukkie geskiedenis waarrondom 'n vae gevoel van katastrofe gedrapeer was. 'n SAW-nederlaag by Cuito Cuanavale het 'n Algemeen Aanvaarde Feit geword.

En so sou dit gebly het, totdat die smalende ANK in hulle misplaaste hubris besluit het om die Kubane se gewaande skynoorwinning twintig jaar na die slag te vier. Toe het dit weer 'n legitieme debatspunt geword. Dié keer het die waarheid geseëvier. Vir die eerste keer het die gewone Afrikaner bewus geword van die uitmuntende, klinkklare, glorieryke en onbetwisbare oorwinning wat die SAW behaal het.

Die liberalis, daardie weergalose formuleerder van AAF’s, se swakheid lê daarin dat hulle, wanneer hulle posisie begin wankel, dit probeer stut deur die Algemeen Aanvaarde Feite met hernude drif te verdedig.

Die volgende feitestel wat begin vibreer op die buitewyke van die openbare debat is dié van Apartheid. Tans is dit 'n Algemeen Aanvaarde Feit dat Apartheid 'n stelsel van onverdunde boosheid was, ontwerp om te onderdruk en toegepas om die landsmeerderheid onder die hak te hou. Volgens die AAF was daar geen versagtende waarde in Apartheid nie.

Die romanskrywer Deon Meyer demonstreer dié knieplukreaksie wanneer hy benoud sê dat, ongeag van die heersende omstandighede in die land, alles beter is as Apartheid.

Maar wanneer die kontras tussen die voorspoed vir almal onder Apartheid toenemend vergelyk word met die algehele verval onder die ANK-regime, begin mense hardop torring aan die AAF. Wanneer die smalende strydwyf, Mamphela Rampela, byvoorbeeld op 'n konferensie mor dat die Bantoe-onderwys van Apartheid ver superieur is bo vandag se opvoedingsdebakel, kan ons maar weet dat Apartheid ingeskryf word op die onderwerpslys van die openbare debat.

Wat volgende gebeur is dat 'n paar skril stemme begin skrei oor die instelling van Apartheid. Die rasieleiers in hierdie reaksie is, onvermydelik, die Nasperskoerante en hulle diep deskundiges ter ondersteuning in die verbasendste plekke op. Een van die opvallendste was dié van 'n volbloed Dopperprofessor.

In Beeld van die 30ste Desember gryp Professor Amie van Wyk die aflosstokkie wat so wiggel-waggel in die greep van die onderhouers van die AAF van Apartheid. Daarmee storm hy holderstebolder in 'n suigsandmoeras van onsinnigheid in.

In sy rubriek, “Kerk moet sy oë op die groot vraag hou,” versaak hy verskeie eksegetiese sleutels waarop die Gereformeerde Kerk homself vir so lank geroem het. Eers kug hy in taal wat vol fronse is oor wat hy “biblisisme” noem. Hy beskryf dit as “daardie benadering waar jy vooraf 'n standpunt inneem en dan op soek gaan na losstaande Bybeltekste om jou standpunt te begrond.”

Dít, sê hy, is “wat met apartheid gebeur het.”

“Daar staan tog duidelik in Handelinge 17:26 dat God ‘voorafbepaalde tye en die grense van hulle [al die nasies se] woonplek vasgestel het.’”

Hy trek dit dan deur na die Afrikanernasie (sic.) “En dit geld ‘al die nasies,’” skryf hy, “dus ook die grense en die woonplek van die Afrikanernasie.”

“Wie kan nou daarteen stry?” vra hy voordat hy oombliklik daarteen begin stry.

Hy sê dit is 'n “groteske wyse” om die Bybel te gebruik omdat daar dan vergeet word van die versoeningswerk van Christus. Die kerk is “nuwe skepping van God... wat alle grense van taal en kultuur oorstyg.” Om dit te staaf verwys hy na Efesiërs 2:15-18.

En net hier versaak die liewe professor die beginsels van gesonde eksegese. Hy maak van 'n beginsel gebruik wat akademies bloedarmoedig is. Dit is bekend as die “Skrif verklaar Skrif”-metode. Dit is byvoorbeeld 'n ou staatmaker van die Charismatiese beweging wanneer hulle gekonfronteer word deur Skriftuurlike aanwysings wat ongerieflik in hulle teologie lê. Hulle pypkan dit bloot deur te redeneer die stukkie kan nie op sy eie verstaan of aanvaar word nie. Dan paradeer hulle 'n ander Skrifgedeelte waarmee hulle meer gerieflik is.

Die professor doen dieselfde. Hy sê as’t ware: “Vergeet nou eers van Handelinge 17:26. Kom ons gaan kyk na Efesiërs 2:15-18.”

Daarmee probeer hy 'n bepaalde deel uit die Bybel wegskryf, of ten minste onder die mat van 'n ander stuk in vee. Maar ons kán nie van die Handelinge-gedeelte vergeet nie. Daar staan dit, elke keer wat ons die Bybel daar oopmaak. Die gedeelte in Efesiërs is nie 'n reinigingsmiddel wat dié in Handelinge oplos en verwyder nie.

Die regte benadering, die een wat die professor so goedsmoeds verontagsaam, is om Handelinge 17:26 behoorlik te ontleed volgens die sleutels van behoorlike eksegese wat metodes insluit soos oorweging van die literêr-historiese agtergrond daarvan, die konteks en die taal waarin dit geskryf is. Daar kan dan geen twis wees nie: Die Here hét volke se gebiedsgrense vasgestel en as dít 'n grondslag vir Apartheid is, nou ja, dan het dié stelsel 'n Bybelse ondersteuning.

Die keuse van die gedeelte in Efesiërs is ook vir die arme professor se betoog 'n ongelukkige een. Dit gaan dáárin oor die toegang wat heidense volke tot die reddingswerk van Christus het. 'n Konsekwente toepassing daarvan volgens die professor se voorstel sou tot gruwelike onsinnigheid lei, soos dat ons die aanwysings in Romeine 13, dat die regering die plig het om die burgers van 'n land teen boosdoeners te beskerm, ook moet verontagsaam. Die professor stel dus voor dat ons van ons veiligheidsdienste ontslae moet raak. Jesus hét mos vrede en medemenslikheid kom bewerkstellig.

Moenie ou koeie uit die sloot grawe nie, het die ou mense gewaarsku. Laat slapende honde met rus. Apartheid is 'n ou koei met lang slagtande. So lank as wat die liberalisskrywers die gewaande, onberedderbare boosheid daarvan as 'n Algemeen Aanvaarde Feit met rus laat, sal dit hulle nie byt nie.

Maar in hulle toenemende desperaatheid sleep hulle dit nou al hoe meer weer in die openbare debat in.

Die ou koei kom uit die sloot; die iesegrimmige hond ontwaak. En ek voorspel dat die hare gaan waai.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: